Hoekom kleuterskool toe

Waarom moet my kindjie kleuterskool toe gaan?
Marzanne Booyens - Julie 2018

Die Kleuterjare is ‘n tydperk van fenomenale ontwikkeling op verskillende vlakke en al is elke kind se ontwikkelingsverloop uniek, is daar tog merkbare fases waardeur die kleingoed gaan. Ja, daardie vloermoer is NORMAAL. Nee, nieie as jou kind 6 jaar oud is nie. Ek hoop die volgende inligting verskaf aan julle meer duidelikheid aangaande die doen en denke van jou goggie / gedroggie.

Die vraag wat ons baie kry is:

Hoekom is dit nodig dat my kind kleuterskool toe gaan?

In vandag se moderne tyd speel die preprimêre skool ‘n baie belangrike rol in die opvoeding van ons kinders. Aangesien so baie ouers in vandag se lewe albei moet werk, is die kleuterskool die meeste kleingoed se primêre versorger.

Vandag se graad 1-kurrikulum plaas ook baie druk op die klein kind. Die kleuterskool dien as voorbereiding vir hierdie moeilike jaar. In Kontiki probeer ons hierdie druk wat op die graad R-leerders geplaas word steeds verder opbreek, deurdat ons die kinders reeds vanaf die klein klassie begin voorberei vir die werk. Dit is dus beter vir die kleuters om reeds vanaf 4 jarige ouderdom by program in te skakel. Dit is wel so dat ouers, met die nodige riglyne, die kleuters by die huis kan help. Tog is daar twee baie belangrike ontwikkelingsareas wat agterweë bly by tuisonderrig, naamlik emosionele en sosiale ontwikkeling. Vir gesonde emosionele en sosiale ontwikkeling het die kleutertjie maatjies nodig - iets wat nie altyd met tuisonderrig moontlik is nie.

Emosionele Ontwikkeling
Die 3 jarige begin tekens van selfbeheer toon. (“Begin”, so wees maar geduldig.) Hulle begin meer saamwerk, is liefdevol en vriendelik en is baie trots op wat hulle kan maak en doen. Prys hulle pogings – al is dit ook hoe krom en skeef!
Op hierdie ouderdom begin die kleuter ook ‘n sin vir onafhanklikheid ontwikkel en is nog geneig om hardkoppig te wees (weereens - normaal). Die outjie is egter steeds afhanklik van sy mamma en is baie ingestel op die emosies van sy ouers. Hulle taalontwikkeling laat hulle toe om op ‘n meer aanvaarbare wyse uiting te gee aan hulle emosies en alhoewel hulle skaam voorkom is hulle eintlik net onseker.
Op 3 jarige ouderdom is die kleuters nog baie selfgesentreerd en egosentries. Die hoofdoel gedurende hierdie jaar (Seeperdjies) is om die kleingoed meer bewus te maak van hulle maatjies en om hulle te leer om ander se behoeftes in ag te neem.
Die 4 jarige is meer selfversekerd en doelgerig. Hulle verlaat hulle beskermende omgewing en leer hulle beperkinge ken en aanvaar. Hulle benader probleme op ‘n redelike wyse - as hulle redelik behandel word.
Emosioneel is hulle meer stabiel en hou hulle daarvan om te spog. ‘n 4 jarige is egter geneig om emosioneel terug te val as hy of sy moeg is. Ons poog ook om hulle selfstandig te maak, aangesien selfstandige optrede lei tot ’n positiewe selfbeeld wat hulle dan die selfvertroue gee om te ontdek en verken.
Die 5 jarige is emosioneel baie meer beheersd en nog meer stabiel. Hulle is vol selfvertroue en spog graag. Hulle is ook baie trots op wat hulle bereik of geskep het. Hierdie kleingoed hou van die beperkinge wat rëels aan hulle oplê en kan in ‘n geringe mate eie besluite neem. Op hierdie ouderdom kan die kleuter hom- of haarself ook handhaaf in die afwesigheid van ‘n ouer. By die skool lei ons hulle om steeds meer onafhanklik te wees en om op hulle eie probleme op te los. Om dus nie met stories by juffrou te kom nie, maar om eerder self en op ‘n positiewe manier met die maatjies te kommunikeer as hy of sy nie hou van die manier waarop maatjies optree nie.
Die 6 jarige is onstabieler as die 5 jarige. Hulle toon vinnige buiewisselings tussen liefde en haat en is geneig om selfgesentreerd, aggressief en rebels te wees. Hulle is ook dikwels liefdevol, vriendelik, entoesiasties en samewerkend. Die 6 jarige is intens nuuskierig en vind dit moeilik om frustrasie en mislukking te hanteer. Hierdie is gelukkig net ‘n fase en met positiewe hantering kan die kleuter vinnig hier deurbeweeg.

Sosiale Ontwikkeling
Spel ontwikkel in verskillende fases.
Die egosentriese 3 jarige verkies om by homself te speel, of speel eerder langs ‘n maatjie as met ’n maatjie. Wanneer die fokus begin skuif na ander, weg van die eie ek af, begin die kleingoed met mekaar speel. Die 4 jarige begin met ander deel en dis hier waar onselfsugtigheid begin. Vaste vriendskappe begin ontwikkel en die kleingoed verruil hulle alleenspeeltyd vir speeltyd met maatjies - eers langs hulle en dan met hulle. Hulle toon tekens van simpatie, waar nodig en projekteer hulle eie ervarings - of dit wat hulle in die huis beleef - op poppe en speelgoed. (Toemaar julle, ons praat nie uit die klaskamer uit nie!!).
Die 4 jarige geniet hulle maatjies se geselskap terdëe en word steeds meer mededeelsaam. Hulle kan in ‘n groepie speel en het dikwels ‘n “beste” maatjie. Hulle toon ook empatie wanneer ander seerkry en begin om beurte te neem.
Die 5 jarige hou daarvan om met maatjies te speel, maar kan ook vir lang tye alleen speel. Hulle geniet, op hierdie ouderdom veral, fantasiespeletjies en hou van kompetisiespeletjies. Dit beteken nie hulle hou van verloor nie en ‘n volwasse skeidsregter is gewoonlik ‘n goeie idee, aangesien ‘n volwassene se goedkeuring nog vir hierdie outjies belangrik is. Op 5 jarige ouderdom is dit ook duidelik waarneembaar watter kleuters lei en watter volg. Kleuters het dikwels leiding nodig om hierdie leierseienskappe positief oor te dra, sonder om baasspelerig te wees.
Die 6 jarige baklei dikwels met ander kinders, maar het tog ‘n behoefte aan samespel. Hulle is ook baie besitlik ten opsigte van dit wat hulle eie is. Byt maar op jou tande en onthou weereens: dit is net ‘n fase.

Grootmotoriese ontwikkeling
Op 4 jarige ouderdomsvlak is die primêre ontwikkelingsarea die grootmotoriek. Dit sluit al die liggaam se groot spiere in. Dit is dus baie belangrik dat die kleingoed moet buite speel. Hardloop, kruip, klim en klouter, swaai en gly is alles voorvaardighede vir skryf- en leerwerk (middellynkruising, ruimtelike oriëntering en dieptewaarneming). Hierdie ontwikkeling vorm ook die basis vir al die ander ontwikkelingsfases. As ‘n kind sukkel om te beweeg gaan dit verkenning en ontdekking belemmer. Uit die grootmotories volg die fynmotories. Dit behels al die kleinspiertjies in die vingers, polse en tone. As die kleuter se grootmotoriek egter nie voldoende ontwikkel het nie, sal dit heel waarskynlik lei tot fynmotoriese inkortings.

Fynmotoriese ontwikkeling
Die fynmotoriese spiertjies is baie belangrik. Dit beïnvloed die kleuter se hantering van ‘n verfkwas, sy potloodgreep en hoe hy of sy gaan knip.
Die 4 jarige word bekendgestel aan hierdie toerusting en vrye ontdekking en eksperimentering word aangemoedig. Die korrekte grepe word ook geleer. Op 5 jarige ouderdom word die grootmotoriese vaardighede verfyn en die fynmotoriese vaardighede kry baie aandag, sodat die kleingoed in graad R gemaklik voel met skryf- en knipwerkies.

Taalvaardighede
Kleuters moet gelei word in die korrekte gebruik van woorde en sinne, blootstelling kry aan nuwe woorde en die korrekte uitspraak van klanke. Kleuters hou van gesels en vra baie vragies. Dit is die natuur se manier om hulle woordeskat uit te brei.
Spraakontwikkeling vorder in groepopset baie vinniger en kleuterskool kan in hierdie opsig baie voordelig wees.

Konsentrasie, luistervaardighede en geheue
Konsentrasie is baie belangrik in graad 1, maar dit is ‘n vaardigheid wat geoefen moet word. Ons verwag van die 4 jariges om vir 10 minute deurlopend te kan konsentreer, met 20 minute gerigte aktiwiteite; die 5 jarige vir 15 minute, met 30 minute gerigte aktiwiteite; en die gr R-leerder moet vir ten minste 20 minute kan aandag gee, met 40 minute van gerigte aktiwiteite. Jou kind se konsentrasie verbeter as hy legkaarte bou, na stories luister of sorteerwerk doen. Geheue speel ook ‘n groot rol en kan geoefen word deur vrae te vra nadat ‘n storie gelees is of liedjies en rympies aan te leer. Kinders moet ook opdragte kan uitvoer en daarom moet hulle kan luister met begrip.

Ander vaardighede wat ons ontwikkel is:

Ruimtelike orïentering
Hierdie is die vermoë van die kind om voorwerpe in ruimte te plaas. Dit sluit in begrippe soos bo, onder, agter en binne-in. Dit vervat ook rigting en lateraliteit (links en regs). Op 4 jarige vlak fokus ons op die kleinding se eie lyfie. Sy moet dus voorwerpe beskryf in terme van haarself, bv. voor (haar lyfie), agter (haar lyfie), ens. Die 5 jarige werk op ‘n 3 dimensionele vlak, bv. met ‘n blokkie en ‘n garetolletjie: plaas die tolletjie bo-op die blokkie, ens. In graad R werk ons op ‘n 2 dimensionele vlak (op papier).

Wiskundige vaardighede
Hierdie behels die bewusmaking van syfers en hoe dit van letters verskil. Telliedjies, eenvoudige somme en wiskundige begrippe (volume, rangorde) val ook hieronder.

Probleemoplossing
Hiervoor benodig jou kind kreatiewe denke (deur skeppende werk te doen soos teken en fantasiespel) en kritiese denke (om foute raak te sien en dan planne te maak om hulle reg te stel).

Navorsingsvaardighede
Jou kleuter leer hoe om meer van die wêreld en omgewing uit te vind en tegnologie te gebruik om inligting te bekom.

Perseptuele vaardighede
Jou kind leer ontdek en verken deur sy oë(visuele persepsie) en ore(ouditiewe persepsie) te gebruik.

Kognitiewe Ontwikkeling
Die 3 jarige kan tel tot 10, het ‘n goeie geheue, ken eie geslag en speel verbeeldingryk. Die 4 jarige luister graag na stories. Hulle vertel lang stories en sit baie maal wolhaarsterte aan. Hulle kan vir langer periodes as die 3 jariges met een taak besig wees, maar verander voortdurend hulle liggaamsposisie. Hulle geniet ook uitgebreide fantasiespel. Die 5 jarige is UITERS weetgierig en hou nooit op vrae vra nie. Hulle hou ook van stories oor sterk en magtige mense (van Simson tot Superman). Die 6 jarige gesels vrylik en is steeds geïnteresseerd in die aanleer van nuwe woorde. Op hierdie ouderdom begin hulle spontaan lees en skryf en is hulle steeds baie lief vir stories.

Hierdie is bloot net ‘n ROWWE riglyn. Onthou altyd dat elke kind uniek is en dat party kinders vinniger deur een fase sal beweeg, maar stadiger deur ‘n ander.

Hoe weet ek my kind is skoolgereed?
Al die vaardighede wat hierbo genoem is word in ag geneem by die evaluering van die graad R-kind. Ouers moet egter onthou dat die rede waarom ‘n kleuter uitvalle toon op sekere areas soms ‘n fisiologiese of ‘n emosionele oorsaak kan hê. Om seker dat jou kindjie wel skoolgereed is doen ons wel skoolgereedheidstoetse by die skool wat 7 van hierdie leerareas(vaardighede) toets. Die areas wat getoets word is: visuele persepsie, ruimtelike vermoëns, getal, taal, menstekeninge, ouditiewe vaardighede, fyn motoriek en grootmotoriek.

PRET-OEFENINGE OM FYNMOTORIESE VAARDIGHEDE TE OEFEN

Hoe meer jou kind sy vingers gebruik, hoe vinniger sal sy fynmotoriek verbeter. Probeer gerus hierdie oefeninge (uit Baba & Kleuter Mei 2007):

Snip-snipper-snip
● Maak papierpoppe. Help hom op die pop op karton te plak en uit te knip. Teken basiese klerepatrone en laat hom dit uitknip uit verskillende teksture. Vir die kleintjies: knip verskillende tipes basisse (karton, koerant, lap, foelie, ens).
● Maak ‘n plakboek en laat kleinding prentjies uitknip.
● Maak julle eie storieboek.

Vingergimnastiek
● Laat jou kind sy hand plat op ‘n tafel neersit en kyk hoe vinnig hy sy vingers een vir een kan oplig.
● Laat hom probeer om ‘n hele blad koerantpapier in sy hande klap sonder dat die papier uitval. Skeppende vingerwerk
● Laat haar tollebrei.
● Skroewe los- en vasdraai.
● Ryg macaroni aan ‘n wolletjie.

Papierpret
● Skeur stukkies koerantpapier in stroke en frommel dit op in balletjies. Kyk wie kan die meeste daarvan oor ‘n afstand tot in die snippermandjie gooi.
● Beoefen papiervoukuns! Maak bootjies, hoedjies, waaiers en papiervliegtuie.
● Skeur en rol stukkies kreukelpapier of snesiepapier in klein balletjies en plak dit om prentjies te maak. Lekker speletjies
● Speel pick-up-sticks of Jenga.
● Bou legkaarte.
● Speel met klein boublokkies, soos lego.

Raakvatspeletjies
● Probeer items van verskillende groottes met ‘n haartangetjie optel.
● Strooi muntstukke oral in jou huis en stuur jou kind op ‘n skattejag om dit op te tel.

Het jy geweet? Die korrekte skerposisie is met die duim en middelvinger in die gaatjies van die skerhandvatsel en die wysvinger aan die buitekant van die handvatsel om dit te stabiliseer, met die oorblywende twee vingers in die palm gekrul.een hand op te frommel.
● Laat hom ‘n vel papier tussen sy hande vashou. Kyk hoeveel keer kan hyRooiligte vir fynmotoriese probleme:
● Jou kind sukkel om haar potlood te beheer en het ‘n swak potloodgreep vir haar ouderdom.
● Hy sukkel om fyn goedjies raak te vat.
● Sy sukkel om te knip of knip slordig en stadig.
● Hy verkies buite-aktiwiteite en vermy handwerk-aktiwiteite.
● Haar spiere is uitermatig gespanne as sy besig is met fynmotoriese takies. Het jy geweet?

Fyn motoriese vaardighede ontwikkel die beste wanneer kinders op ‘n byna vertikale oppervlak werk met die gewrig na buite gebuig. Gebruik esels, vensters, spieëls en vertikale skryfborde vir kunsaktiwiteite.

Awesome Image

By Kontiki is elke kleutertjie spesiaal. Elke kindjie se individualiteit en uniekheid word in ag geneem wanneer ons hulle voorberei vir skooltoetrede. Ons graad R-klasse voldoen aan departementele riglyne en volg die CAPS-kurrikulum.

Skoolure

  • Ma - Vr07:00-17:15
  • Sa - SoGesluit
  • SkoolvakansiesGesluit

  Besoek ons Facebookbladsy.

 
 

Kontak ons gerus

U kan ons gedurende skoolure kontak by.

  • Genl. Hertzogstraat 100
    Dan Pienaar, Bloemfontein
  • 051 – 436 3370
  • info@kontiki.co.za
© 2019 Kontiki Preprimêr. Alle regte voorbehou. Webtuiste deur Utilisoft